Our Mission Statement: 
The Johannesburg Section of the Mountain Club of South Africa actively fosters and facilitates mountaineering. This incorporates climbing, trekking, mountain walking and related activities, and promoting fellowship between people with these interests who are committed to the conservation of mountain areas.

HomeNewsLatestWith Great Sadness

With Great Sadness

 

Dear Mountain Club members

 

It is with great sadness that we advise that Francois Junod has passed away at 7:15 this morning (22 April) – 12 days after his 84th birthday.

 

Our sincere condolences go to his wife Sheila, son Alex and Les, Alex’s wife, as well as to all Francois’s family and friends.

 

Further announcements will be made via the Club mail list. Attached is an article (in Afrikaans) with reflections on his life and thoughts.

 

Best regards,

Petro Grobler

From Eggo 1997, Bergklub van Suid-Afrika (Afdeling Magaliesberg) se feesblad:

François Junod - idealis én pragmatis

Magaliesberg... rustic name plates and notices... creation of François Junod. For us to maintain as a thank-you to François. Jan de Groot, Mijmeringen, Eggo 1993

Daar is sekerlik nie ‘n bergklimmer in Gauteng wat nie, welwetend al dan nie, deur François Junod se bykans lewenslange betrokkenheid by bergklim in, en bewaring van, die Magaliesberg beïnvloed word nie. Meeste van ons se bergklim-ondervindinge het begin waar ‘n houtbordjie met  uitgekerfde toorwoorde soos ‘Puddin’ Poke’, ‘Dome’ en ‘Calabash’ en ‘n gravure van die voëltjie ‘Tweety Bird’ daarop, langs ‘n grondpaadjie in die Magaliesberg staan.

Switserse sendelinge in Afrika

Not to know what happened before one was born is to remain a child. - Cicero

François Junod stam uit ‘n familie van Switserse Presbiteriaanse sendelinge wat sy grootgrootvader, sy grootvader Henri Alexander en sy vader Henry Philippe ingesluit het. Hy is gebore in 1928 in Johannesburg as die derde kind van vier - die ander drie was dogters. Sy vader was toe 170km vanaf die destydse Lourenço Marques in Shaishai gestasioneer. Sy moeder was ‘n verfynde vrou en die sendelingsjare in Mosambiek was vir haar moeilike jare met karige fasiliteite.

Grootvader Henri Alexander was kundig in plantkunde, antropologie, medisyne (ook dié van die sangomas) asook in die linguistiek. Hy skryf die gesaghebbende twee volumewerk, Life of a SA Tribe (University Books, New York, 1962, tweede uitgawe) oor die Sjangaan-volk. Die werk gee tans aan antropoloë ‘n akkurate weergawe van die lewe van die Sjangaans in die begin van die twintigste eeu. Hy speel ook ‘n groot rol in die kodifisering van die Sjangaan-taal en die vertaling van die Bybel daarin.

Sy sendelingvader Henri Philippe was ‘n uiterse idealis en het vir sy God gelewe. Hy was ook ‘n goeie alpinis en was baie musikaal. Die twee talente het soms bymekaar gekom wanneer hy, volgens François, soms sy viool op die pieke van berge gespeel het! Hy is ook antropoloog en die outeur van Bantu Heritage (Hortor Ltd, 1938). In 1940 het hy ‘n bundel van Tsonga verhale wat tot honderd jaar oud was, saamgestel (Mwampfundla - Nwašisana. 50 Shangana-Tsonga fables in Tsonga Verse, Wallachs, Pretoria met 25 illustrasies deur Walter Battiss).

Hierdie familie-betrokkenheid by die Sjangaan-volk word deur François voortgesit toe hy in 1991 as regsadviseur en lid deel uitmaak van die Sjangaan-afvaardiging by Codesa: 100 jaar van Sjangaan-tradisie in die Junod-familie.

Kinderjare en skoling

Only the educated are free. Epictus

In 1931 word François se vader aangestel as kapelaan by Pretoria-Sentraal gevangenis waar hy mense byna 800 terdoodveroordeeldes tydens sy leeftyd bystaan. Dit is slegs sy totale toewyding aan God wat hom deur hierdie tydperk van sy lewe sien. As die viool vroegoggend Bach se ‘Air in the G string’ uit die Derde Suite speel, het die kinders geweet dat iemand dié oggend sou sterf.

Die Junod’s se familiehuis staan steeds in DF Malanstraat nie ver van die gevangenis nie. Hulle huistaal was natuurlik Frans. Sy moeder het gesorg basies vir die grootmaak van die kinders en sy het die huishouding op die skraps kapelaansalaris van £240 ‘n jaar behartig. Sy was streng, maar dit was gelukkige kinderjare (François glo steeds dat kinders onder dissipline floreer en dat dit ‘n tekort is in moderne opvoeding dat kinders toegelaat word om hulself totaal uit te druk).

François se hoërskooljare het by WHPS plaasgevind en later, met behulp van ‘n beurs by Michaelhouse, in Pietermaritzburg. Na matriek in 1945 verbreek hy twee tradisies: eerstens die familietradisie van teologiestudies deurdat hy in die regte gaan studeer en tweedens besluit hy om, anders as sy skoolgenote nié na ‘n Engelse universiteit te gaan nie, maar om eerder aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Hy wou Afrikaans leer praat en ‘die ander kant’ sien (dit was natuurlik in die dae voor die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het). Hy bly in Dagbreek-koshuis, leer Afrikaans praat en verwerf ‘n BA cum laude.

As houer van die Elsie Ballott beurs (ekwivalent aan die Rhodes beurse na Oxford) verwerf hy na drie jaar aan Pembroke College in Cambridge ‘n BA LLB en MA in regte. ‘n Beurs van die Franse regering aan die Sorbonne word aangewend om verder te spesialiseer in kriminologie en tydens sy navorsing besoek hy verskeie tronke in Frankryk - een daarvan ‘n vrouetronk wat tot op daardie stadium nog nooit besoekers toegelaat het nie en waar nog baar interne strafpraktyke geheers het. ‘n Een-jarige International House beurs na Berkeley loop op ‘n MA in politieke wetenskap en kriminologie uit. Hier werk hy in die San Quentin tronk (1200 gevangenis) en leer hy baie van die donker aspek van misdaad.

Afrika roep: die regsprofessie

The law is but words and paper without the hands and swords of men. James Harrington

François sê sy sendelingsroeping laat hom terugkeer na Afrika om Afrika en sy mense te help. Hy word toegelaat as advokaat (hy doen sy praktiese opleidimg as Rgistrateur van Regter Dowling) en vir 42 jaar spesialiseer hy in water- en grondsake. Hy deel my glimlaggend mee dat hy tans die oudste lid van die Pretoria Balie is. (Hy word 70 op 10 April vanjaar).

Waarom die verandering van vakgebied vanaf kriminologie? Hy kon hom nie versoen met die toepassing van kriminele reg nie onder andere omdat sukses daarin somtyds gepaard kan gaan met die meedoënlose opmaak van ‘stories’. Hy was ook nooit bereid om na die regsbank te beweeg nie, omdat hy nie bereid was om die latere wette van die land toe te pas nie. Hy wou ook sy onafhanklikheid behou.

Die afgelope twee-en-’n-half jaar werk François pro amico as deel van Kader Asmal se werkgroep om SA se waterwette op te knap en te herskryf. Die konsepwetgewing is in Desember 1997 voltooi. Hy sien hierdie ‘liefdestaak’ ook as ‘n soort boetedoening daarvoor dat hy 42 jaar welwetend die onregverdigbare waterwette van die land toegepas het. Hy stel dan ook dat deel van ‘n versoeningsproses eerder die doen van werk moet wees om te vergoed en dat in hierdie opsig die Waarheids- en Versoeningkommissie minder nut het nie. Sy eie versoeningsproses was vir hom persoonlik uiters bevredigend. Volgens hom verkrag baie professionele mense hulle professies deur slegs aan hulself en geld (fooie) te dink en dat dit veral in die regsberoep voorkom.

François sê dat die nadeligste invloed van die Engelse kolonisasie die invloed van die Engelse reg ten opsigte van eienaarskap op die res publica van Romeins-Hollandse reg was. Water, berge, lug... dit is alles van die bronne wat aan die mensdom behoort en die mens is net ‘n voog daarvan. As die voogdyskap swak toegepas word, behoort dit van die persoon wegggeneem te word.

Lewe en liefde

We walk in the great hall of life, looking up and round reverentially. Olive Schreiner

Vanaf François se Sorbonne-jare was daar ‘n Deense meisie in sy lewe. Toe François in 1953 na SA terugkeer, besluit sy egter - nadat koeranthoofopskrifte wêreldwyd in 1951/2 die geval dek waar ‘n non in Oos-Londen in stukkies gekerf is - om hom nie na die ‘barbaarse Afrika’ te vergesel nie.

François ontmoet Sheila Patchitt, met ‘n moeder van Skotse afkoms (McArthur), toe hy in die Magaliesberg vir haar as sekretaresse van Afdeling Transvaal vra hoekom hy nie sy nuusbrief ontvang het nie! Onder Trident se moepelboom vra hy haar eendag om te trou en in 1956 is hulle getroud. François sê Sheila was ‘n goeie klimmer (destyds éérs skaars) en ‘n “tomboy” (is dit hoekom sy nog sulke ondeunde blou oë het?). Sy glimlag maar net daarop. Sheila is ‘n argitek en ontwerp die huis waarin hulle in Waterkloof bly in die vorm van ‘n Switserse chalet. Hulle het later een seun, Henri Alexander.

François en Sheila beleef baie ervaringe saam. Tydens een van hulle gereelde familiebesoeke aan Switserland, kuier die familie in 1960 in Zermatt. Na 29 dae se wag is daar vir die eerste keer ‘n geleentheidsvenster om die Matterhorn te klim. Sy alpinisvader dring daarop aan dat hulle ‘n gids gebruik. François en Sheila is twee van die 12 wat bo uitkom nadat 75 (en dít in 1960!) op ‘n  perfekte dag, maar met toestande van verglas, begin klim het. Tydens die afgaan val ‘n solo-klimmer van Skotland hom voor hulle oë te pletter

Daar was ook die 180km stap van die Epupa Gorge langs die Kunenerivier in 1963 in destydse Suidwes-Afrika saam met wyle Potty Thompson en Eva. François het daarin geslaag om die uitsonderlike toestemming om die gebied te kan besoek, te bekom. Daar was destyds nog inwoners wat nog nie vantevore ‘n witman gesien het nie. Die ekstreme hitte, die dra van twee weke se kos en die ruwe terrein maak van hierdie ‘n ware historiese pionierstog. Tydens die daaglikse 12-uur lange stap, word hy darem een uur per dag toegelaat om in die Kunene vis te vang om hulle bronne aan te vul. Hy het ook daar geleer dat vrouens ‘n uithouvermoë het wat mans nie het nie.

Die Junod’s het ook ‘n lang verbintenis met die Transkeise kus wat deur hulle in vervloë dae, toe dit nog ongerep was, platgeloop is. Een keer het François die lewe van ‘n Xhosa-dogter gered toe sy tydens die uithaal van rooi-aas deur ‘n getygolf ingesleur is tot op ‘n rots diep in die see. Hy slaag daarin om om uit te swem en om met die uitgooi van twee aanmekaargebinde rotsklimtoue haar te bereik, terwyl ongeveer 200 Xhosas aan die kant staan en dit waarneem. Die dogter was toe al die tyd die dogter van die hoofman en die hoofkaptein van die Conjwayo stam het aan hom ‘n hut geskenk by Mnenu naby Hluleka Natuurreservaat, sodat die Junod’s hul vakansies tussen die stam kon kom deurbring. François word steeds deur die Xhosas Songilizwe genoem - “the man who looks at the countryside/who looks after people” - en die Junod’s besoek steeds die hut gereeld. Dit is slegs per voet bereikbaar en is in ‘n woud versteek.

Die Magaliesberg as hartland

The Magaliesberg, almost 100 times older than Everest, has, near the top of its long ridge, large corrugated slabs of rock which are fragments of a fossilised shoreline rippled by a tide that ebbed more than a million years ago when the earth’s atmosphere was unbreathable and its land surface naked of life. James Clarke

 

Die Junod’s se geliefde plek is die Magaliesberg en dit is hier waar François vir bergklimmers sy besondere impak gemaak het. Met sy bekendstelling aan Tonquani, na sy terugkoms uit die VSA waar hy waargeneem het watter vernietiging ontwikkeling op berggebiede en mooi natuurgebiede gehad het, droom hy dié nag by die kampeerplek dat daar ‘n kabelkar oor die kloof tot in Red Gully span. Dit was hierdie gesig dat dit alles bederf kon raak wat die vonk was vir sy lewenslange aktiewe grondtransaksies in die Magaliesberg en hy besluit dat dit nooit toegelaat behoort te word nie.

Hy begin deur vas te stel aan wie die plase behoort. Meeste van die berggebied was onderverdeeld. In 1957 vind hy uit dat ‘n aandeel in die plaas Buffelsfontein te koop is met ‘n gepaardgaande een twee-en-dertigste aandeel van die groot onderverdeelde area op die berg wat Boulderkloof, Red Gully en Upper Tonquani ingesluit het. Hy staan terug sodat die Klub die aandele kan koop. Dié aankoop was die belangrikste in die Klub se geskiedenis in ‘Transvaal’ omdat dit permanente toegang tot, soos hy dit noem, die “heiligstes van die heiliges” - Tonquani - verleen het. In daardie jare was meeste Bergklublede sterk gekant teen grondaankope omdat hulle nie die nodigheid ingesien het nie, in elk geval toegang gehad het, en gedink het grondbesit slegs probleme sou inhou. Die besit van ‘n eerste aandeel het reg verleen daartoe dat van die regeringsaandele gekoop kon word. Heelwat later is daarin geslaag dat die grond onderverdeel kon word en die berggebied afgesny kon word. François koop ook mettertyd deel van die plaas Grootfontein (Cedarbergkloof). Dit is teen ‘n belaglike prys gekoop en die boere wou weet of daar goud was. François se antwoord was: “I have found gold, not the kind you think it is - a different kind”.

Deur die jare is verskeie grondtransaksies deur François aangegaan met die oog daarop om dit te bewaar en ook om dit beskikbaar te maak aan mense wat dit wil besoek. In ‘n artikel geskryf vir die 1997 Joernaal, word hy nie verniet deur Harry Barker beskryf as “that indefatigable protagonist of land smousery north of the Magaliesberg” en “that far-sighted idealist” nie.

Ten opsigte van bewaring, onder andere van die Magaliesberg, glo hy dat ons die voogde is van dit wat God in trust gegee het - veral van die berge en plekke van skoonheid van die wêreld. Geen individu kan die reg eis om ander mense uit te hou, net omdat hy oor die finansiële vermoë beskik nie: die natuurlike bronne behoort aan alle mense. Volgens hom moet die hele konsep van eienaarskap van sodanige bronne verander. Dit is ‘n voorreg om die voogde daarvan te wees en individue het nie die reg om dit vir hulself te eïen nie. Nóg die wêreld, nóg die berge, word groter,  en hierdie bronne moet op ‘n verantwoordelike wyse gedeel word. Hy weet dat baie van sy mede-eienaars in die Magaliesberg nie hierdie prioriteit deel nie en dit selfsugtig vir hulself wil hou. Hy sê dat die berg ook gedeel moet word met mense wat nie noodwendig rotsklim doen nie. Die toeganklikheid moet natuurlik volgehou kan word en daar voor is getallebeheer nodig. Hy glo nie dat die optimum getalle vir ons klowe maklik (of enigsins) wetenskaplik vasgestel kan word nie en dat dit maar op tref-en-trap manier moet gebeur.

François sê dat die boere nóg die tyd, nóg die wil het om die Magaliesberg te bewaar. Die Magaliesberg kan slegs bewaar word deur mense wat dit liefhet en dit gebruik. Dit is hier waar bergklimmers en die Bergklub so ‘n groot rol te speel het, aangesien baie boere nie eers bo in die berg kom nie. Tot ‘n mate beskerm ontoeganglikheid - geen padtoegang tot bo-op die berg nie - gelukkig die berg.

In 1965 het die Departement van Beplanning en Omgewing aanbeveel dat daar ‘n natuurreservaat tussen Pretoria en Rustenburg geskep moet word, maar die klem was op ontspanning en nie op bewaring nie. Grondeienaars was in opstand omdat dit onteiening geïmpliseer het. Dit lei tot die stigting van die Magaliesberg Bewaringsvereniging waarby François baie betrokke was en steeds is. Die werk van hierdie vereniging loop uit op die proklamasie van die Magaliesberg Natuurgebied in 1977. Hy dien op die Magaliesberg Bestuurs Advieskomitee vandat dit deur wetgewing in 1982 tot stand gebring is totdat die Magaliesberg Natuurgebied - met die herverdeling van die landsgrense in 1993 - in beide Noordwes Provinsie en Gauteng val (die nuwe strukture daarvoor in nog nie in plek nie). As kundige op die gebied van eiendomsreg, onteieningsreg en waterreg, asook met sy intieme kennis van die Magaliesberg en die wetgewing rondom die Magaliesberg Natuurgebied (onder andere met betrekking tot ontwikkelingsopsies), was sy bydrae om die Magaliesberg ongeskonde te hou, van groot waarde.

Die Bergklub

...to further the interests of mountaineering... MCSA Constitution: Objectives

François en Sheila was in hul jongdae aktief in die Klub. Hy sluit aan in 1954 by Afdeling Transvaal (nou Johannesburg) en het goeie herinneringe oor hierdie tydperk. Hy herinner hom byvoorbeeld aan klimme met David Bell wat die Duiwel se Tand in 1950 geklim het. Hy sê David het soos in ‘n dans beweeg, met glyende bewegings eerder as rukkend.

Hy is voorsitter van die Afdeling Transvaal in 1964-5 en beywer hom daarvoor om klublede daarvan te oortuig dat grond vir bergklim aangekoop moet word - iets wat destyds sterk teengestaan is omdat lede nie die nodigheid daarvan kon insien nie. In gevalle het hy geleenthede geïdentifiseer en dan teruggestaan om die Klub die eerste opsie te gee om waardevolle berggrond te kan koop. Hy gee ook wenke aan opvolgende komitees soos díe een wat lei tot ‘n serwituut vir toegang by Trident. Hy en Sheila is stigterslede van die Afdeling Magaliesberg in 1968 en is tans erelede van ons Afdeling.

Die een grondtransaksie van François wat die Klub seker die meeste geraak het was in 1989 toe hy die ruil-koop transaksie met die Klub aangaan waarin Cedarbergkloof/Upper Tonquani die Klub se eiendom word en hy die Klub se Boulderkloof/Lower Tonquani oorneem met toegangsregte daartoe gewaarborg vir die Klub onderhewig daaraan dat die grond nooit kommersieel verkoop sal word nie.

François is ook ‘n mede-eienaar van Kasteelpoort, waar sy ‘stem’ die Klub ‘n meerderheidsaandeel gee in hierdie onverdeelde gebied. Die Klub het juis in 1985 ‘n strook by Dome met François geruil vir ‘n eerste onverdeelde aandeel van Kasteelpoort. Ons behou toegang en in ruil bly ons Afdeling vir Dome patrolleer. Vir dekades al word die donasies gemaak deur permithouers aan ons geskenk. Verder geniet klublede die voorreg van toegang tot die Boulderkloof/Tweedledee Tweedledum area by Laer Tonquani met parkering op sy plaas, Calabash (vir jare was dit op Puddin’ Poke).

Ek sien François soort van as ons Afdeling se chaperone. Telkemale het sy wyse raad oor grondaankope en bewaringskwessies groen (én ook die nuwe soort ‘groen’) voorsitters en komitees op die regte pad gehou. Hy is ook altyd beskikbaar, betrokke en uiters ingelig. Ten opsigte van grondaankope en bewaring, praat hy altyd van die “oë van die Magaliesberg”: die klowe, poele en plekke van skoonheid. Teenoor hier “oë” of “nodes” is daar die “bobbejaanberg” - die eentonige gedeeltes, waarop die Klub nie hulle skaars gelde moet spandeer nie. Hy glo ook dat dit nie toegelaat moet word dat hierdie unieke “beauty spots” van die Magaliesberg kommersieel benut word nie. Daarmee saam gaan dan sy filosofie dat almal toegang moet hê en dat die bewaring van berge deur getallebeheer kan plaasvind wat nie aan monetêre mag gekoppel mag wees nie, dit wil sê toegang moet bekostigbaar wees.

Waarom gaan mense na berge?

I went to the woods because I wished to live deliberately, to front only the essential facts of life, and to see if I could not learn what it had to teach, and not, when I came to die, discover that I had not lived. Thoreau

Volgens François het die natuur en berge ‘n estestiese en spirituele waarde, dit is ‘n rusplek van die euwels van stede. Berge spesifiek gee uitsigte - die geleentheid ‘om te kan sien’. Berge gee geleentheid om in verhouding tot die totaliteit te kan waarneem, waar die mens soos ‘n mier in die totaliteit van die lewe is. Dit gee perspektief - dat die mens deel van iets groter is. Dit gee herbekendstelling van die ewigheidsbegrip - ‘n gevoel van ontsag.

As die leeftyd van die heelal deur een kalenderjaar verteenwoordig word, verteenwoordig maar 0,4 sekonde daaruit ‘n mens se leeftyd. Die Magaliesberg is dan omtrent in Augustus van die ‘jaar’ gevorm en is vir 2 biljoen jaar deur die natuur - see en gletser - bewerk. Waar jy nou daar loop, het een kilometer se grond al weggeërodeer.

Daar is so min areas waar daar nog stilte oor is, waar ‘n mens die wind deur die gras kan hoor. Meeste mense het dit dalk dit nog nooit ondervind nie of al daarvan vergeet. Op die top van die Matterhorn kan jy motorfietse in die vallei hoor, maar die Magaliesberg het nog stilte. Die berg het baie om aan mense te vertel, maar hulle luister nie. Hulle is te besig om “pitons” in te sit, aldus François.

Watter raad het hy vir die jeug?

Watter kaart of watter ster sal ek jou wys

om veilig deur die grysland heen te reis. DJ Opperman

François is bekommerd oor die kompetisiegeneigdheid; die neiging tot afmerk (“ticking off”), tot pogings om ‘name in boeke’ te kry. Dít vind hy betreurenswaardig in sportaktiwiteite sowel as in bergklim. Daar behoort baie meer kameraadskap te wees; meer van genieting versus bereiking:   “more camping”. Eerder as dat daar vereis word om suksesvol te wees, moet daar getrouheid aan waardes wees, iets wat nou sekondêr geraak het.

*****

As jy weer een nag onder ‘n wye sterrehemel by Tweedledee Tweedledum sit, of op ‘n luilekkerdag langs Dome poele lê of die adrenalin van ‘n klim in Tonquani voel, talm ‘n oomblik en dink daaraan dat daar mense is wat wel hulle drome verwesenlik en onselfsugtig dit alles vir nageslagte moontlik gemaak het. Onthou dat daar ‘n François Junod in ons lewens is.

It is individuals who change societies, give birth to ideas, who, standing out against tides of opinion, change them. Doris Lessing

Hierdie artikel is gebaseer op ‘n onderhoud gevoer deur Petro Grobler met François Junod op 18 Desember 1997. Verwys ook na: The quest for access - ’Bread must be bought’, Harry Barker, J BKSA, 1997, word uitgegee.

 

 

Map to Clubhouse:

Go to top